Passie, perfeksie en persoonlike aandag, sy wenresep
Gerald het sy besigheid in 2004 begin nadat hy finaal besluit het om gestalte aan sy liefde vir hout en ontwerpsvernuf te gee. “Ek en my vrou, Olga was 10 jaar gelede nou betrokke met die opgradering van ons eiendom en het noukeurig toesig oor die bouproses gehou. Ek het toe self die kombuis en hangkaste gemaak en van daar het die besigheid sy oorsprong.”
Vandag spog Gerald Lues Kitchens and Cupboards met ‘n verskeidenheid nuwerwetse ontwerps- en vervaardigingsvermoëns om kombuise, ingeboude kaste, kabinette, studeerkamers, badkamerkaste en kroeë in ontwerpersvertrekke te omskep. Die onderneming het ‘n fabriek waar produkte sorgvuldig volgens kliëntspesifikasies onder een dak vervaardig word. Gerald gebruik ook soliede en fineerhout, melamien asook verftegnieke op van sy projekte.
Persoonlike aandag en diens is vir Gerald van kardinale belang. “Om dit te máák werk en die pragtige projek af te handel en die kliënt gelukkig te sien, verg ure se beplanning en baie persoonlike aandag – by die kliënt self, in sy studeerkamer en in die fabriek. Hy noem ook dat mense sy oordeel, insette en advies heelhartig vertrou.
Gerald se geliefkoosde fokuspunt in die huis bly die kombuis. “Ons streef daarna om dit met styl en minimalisme funksioneel sowel as ‘n gesellige kuierplek te maak. Dit moet prakties wees én die dekor moet ’n storie vertel,” sê hy.
Gerald en sy span se urelange en moeisame geswoeg eis ook sy tol op familielede wat soms afgeskeep word. “Ek is baie trots op my span – van die installeerders, fabriekspersoneel tot by my voorman. “Ons weet dat wanneer die druk kom, die fabriek soms laat in die aande sluit.”
Hy voeg by dat nuwerwetse tegnologie betyds tot hul redding gekom het. ‘n Nuwe rekenaarprogram word nou ingespan waar alles van kwotasies, ontwerpskeuses, berekenings, snywerk en bestellings tot voorrade vinnig en selfs aanlyn hanteer kan word. “Ons hele katalogus word programmaties gelaai en kliënte kan in die gerief van hul huise of kantore volkome beheer oor hul projekte uitoefen.”
Gerald se vrou, Olga en hul 3-jarige tweeling, Hayley en Casey pluk reeds die vrugte hiervan omdat Pa nou meer gehaltetyd saam met sy gesin kan deurbring. “Olga is my steunpilaar en ons tweeling is die rede vir alles. My familie verdien niks minder as die beste nie,” sê Gerald. “Ons is buitelewe mense en geniet die natuur. Dit is altyd lekker om met my gesin op te maak vir daardie oggende wat ek nie saam met hulle aan die ontbyttafel kon wees nie.”
Die egpaar het ook in 2014 ‘n ander dekade, hul tiende huweliksherdenking gevier. “Alle eer kom ons Hemelse Vader toe – vir die gawes wat ek van Hom ontvang het, my fantastiese vrou en kinders en alles meer wat ons so onverdiend van Hom ontvang. Dankie HERE.”
Published by WOW Magazine